Thursday, January 29, 2009

Metro Mans



Ja, so leer ek toe ook van "metro mans" - dis glo mans wat in kontak is met hul vroulike kant. 'n Groot bonus vir ons Evas, dink ek.






So kry ek toe nou die anderdag 'n onverwagse wasdag-wenk van my man (Willem het hom nog nooit juis aan sulke banale dinge soos wasgoed gesteur nie, maar hy's darem nooit onwillig om bietjie hand by te sit as ek sukkel nie.). Hy't glo die wenk weer by 'n vriend (ook 'n getroude man, en nie bekend vir sy "domestication" nie, gekry.) Hulle het maniere bespreek om strykwerk minder te maak. 10 uit 10 vir hulle!!!






In my verbaasde brein wriemel daar nou baie tonele rond van mans wat by die vulstasie gou 'n wenresep uitdeel, wat oor die kinders se nuwe leerplanne wonder, wat spog met die witste wit hemp, en swart gimbroeke wat pikswart bly. Mans wat die golfstokke bietjie neersit om die nuutste "reukvrye" sokkies te bespreek. Mans wat kospryse by verskillende supermarkte vergelyk, en die voordele van 'n gebalanseerde maaltyd teenoor die tradisionele Braaivleis en -broodjies of pap onder oë neem.




Miskien sal hulle eersdaags so tussen die rugbybespreking deur, ook 'n woordjie of wat wissel oor die beste ruitskoonmaakmiddel, matsjampoe of stofsuiers. Die goed kos deesdae genoeg om enige man met groot oë na die huishoudelike begroting te laat kyk! Dalk kan hulle na 'n spogdrie sommer raadgee oor hoe om die grasvlekke weer uit die klere te kry ook!






Ek ken nogal 'n hele paar manne (waaronder my eie skoonseun, 'n besonder knap kok, met 'n groot liefde vir kosmaak) vir wie so 'n scenario nie te vreemd sal wees nie, maar hulle is almal so 'n bietjie jonger as die nuwe lede van die metro klub. Hierdie nuwe lede is nou so tussen 50 en 65 jaar oud.






Ek het hoop vir die wêreld.






Vroue probeer lankal 'n voet in die deur van die "manswêreld" kry, en slaag ook daarin - vind die omgekeerde nou ook in ons tradisionele Afrikaanse gemeenskap plaas? En waar laat dit die toegewyde huisvrouens onder ons? Dalk 'n bietjie frustreerd met die man wat inmeng? Dalk bietjie onseker oor ons eie vaardighede?




Ek dink dat ons die sakie uit 'n ander lig moet beskou: kom ons verwelkom hul aandag en hulp, en maak meer tyd vir die lekker saamwees in die lewe. Hierdie ouer metro manne is een van die dae, of dalk reeds, afgetree, en dan is hulle in elk geval meestal by die huis. So, wat keer ons om ook 'n potjie golf te speel, of gimnasium toe te gaan, lang ente te gaan stap, of wat ookal? Hoekom kan Pa nie ook 'n slag die taxi bestuur, of al die terug-skooltoe inkopies doen nie? Miskien kan Ma dan haar hare/naels laat doen, of gaan vir "scrap"-lesse sonder om skuldig te voel.




Man, daar's niks meer seksie as 'n sterk man, wat sy plek as man en pa van sy gesin met vaste voete volstaan en nog belangstelling toon in - en kennis dra van - die binnewerkinge van die huishouding ook nie.
Geniet die METRO EEU!

No comments: