Thursday, January 15, 2009

O-o-o, die liewe gewig!

Nou-ja, na 'n baie geseënde Kerstyd en 'n wonderlike Nuwejaar, is dit nou weer tyd om die werklikheid in die spieël te staar. Kilo's het skelm kom nesmaak op plekke waar hulle nie baie welkom is nie. Om alles te kroon het die ou geraamte wat hoeka nie te waffers is nie, uiteindelik besluit om finaal sy misnoë te kenne te gee.

Dokters voorspel 'n volgende (4de) rugoperasie, maar dit is 'n groot risiko en ek moet maar liewer so lank as moontlik probeer om mobiel (met die hulp van 'n kierie of twee) te bly, en SOVEEL GEWIG AS MOONTLIK AF TE SKUD.

Gehoorsaam aan die medici en my eie "common sense" begin ek met die detoksprogram. Nie uiters aangenaam nie, maar ook nie dodelik moeilik nie. Vandag is die derde en laaste dag van detoks - dan begin die verslankingsprogram. Willem is ten volle met my, en beloof sy steun en samewerking, en sommer saamdoen ook. (Hy het ook lekker gekuier die vakansie). So, 'n SKRALER 2009 is ons voorneme en voorland - of die dame mag dalk haar mobiliteit verloor. Ek sal die verleentheid van "ek is te vet om te loop" (al is dit nie die hele waarheid nie) ten alle koste probeer vermy.

Hier kom 'n jaar van leë koskaste en 'n nuwe yskas vol water, tamaties, blaarslaai en kool - en sommer baie minder braaivleis, wyn en peuselhappies!

Groen groete

No comments: