Monday, July 6, 2009

SLAG IN DIE KAROO

Winter is tradisioneel slagtyd. Vleis moet dan bewerk en verwerk word sodat dit vir 'n redelike tyd bruikbaar sal wees.

Na etlike jare van stadslewe het ons weer verlede week op die ou manier vleis bewerk. Die hele familie, Oupa en Ouma, Ooms en Tantes, en die kinders wie kon, het kom saamkuier en saamwerk.

Die weer was reg - yskoud, met sneeu op die berge naby Graaff Reinet. Die karkasse het lekker koud geword. Langverlang se tyd het dit laas so gelyk - 2 beeste, 1 vark, 1 skaap, 19 springbokke aan die hake. Die slagkamer en inloopyskas moes ingewy word. Wat 'n lekkerte.

Die proses om die karkasse tot huisvrou-vriendelike snitte, maalvleis, wors, biltong en droë wors om te tower, het die hele week geneem.

Die jagters moes ook handjie bysit. Stefan (16) en Philip (12) het vir 11 springbokke gesorg. Philip moes ook sy inisiering deurgaan, en moes sy eerste springbok se "peertjies" rou eet. Hy kon dit nou wel nie binne hou nie, maar die gebaar is gemaak. Mooi so, Phil!

So tussen die werkery deur is daar lekker gekuier. Dis mos 'n ander soort van besig wees as die waaraan ons gewoond geraak het. Die gedagtes kan maar gaan, en spitsvondighede en onthou-staaltjies word heerlik uitgeruil sonder dat die werk skade ly. So was dit eers, en die nostalgie het nie agtergebly nie. Hoewel ons toerusting baie meer modern en gevorderd is, was die samesyn en die rustigheid waarmee gewerk is, tog vir ons almal 'n lafenis.

Dit is wel 'n groot proses om skaapderms skoon te spoel en gereed te kry vir die worsstoppers, maar selfs met seer rûe en gevriesde vingers is dit steeds waar: 'n Verandering is so goed soos 'n vakansie.

Die skaapafval het ook 'n groot uitdaging gebied. Die jonger kinders weet nie meer van die proses om daardie een kooksel gereed vir die pot te kry nie. Die kuns van afval skoonmaak is aan die uitsterf. Mens kan ook nie afval sommer by enige een eet nie. Nee, daar moet doodseker gemaak word dat die oorsprong van die afval darem bo verdenking is. Die graad van witheid van die afval voordat die kerrie bygevoeg is, is ook van die uiterste belang. Een hele dag het dit my en my ma besig gehou. Die pense moes skoon, die kop en pote moes onthaar word, en tussen die kloutjies moet al die kliere en wat nog weggesny word. Vir die krappery het ons Minora-lemmetjies by een van die skaapwagters oorgekoop - nog toe in die pakkie. Ek wonder of hy daarmee skeer, en of hy geweet het hy kan daarmee handel dryf.

Ek het nie 'n enkele vingernael oor nie, maar dit maak glad nie saak nie. Almal loop met kwesplekke waar die mes skerper was as wat ons gedink het, en die vel geraps het. Hegpleister is kwistig gebruik, want ons wil nie graag mensbloed in die vleis hê nie. Asyn en sout in so 'n snyplek laat mens ook lekker les opsê.
Saans is daar 'n drankie voor die kaggel geniet terwyl die lewe stadig maar seker weer terugvloei in die yskoue ledemate. Daardie behaaglikheid kan nie beskryf word nie. Ons 3 skoonsusters het beurtgemaak met die kos se voorbereiding. Ons het heerlik gesmul, en gekuier totdat dit tyd was om die kragopwekker af te skakel, en dit dan amptelik en in die ware sin van die woord, "ligte uit" was.

Die kinders wat nie verlof kon kry om die slagweek mee te maak nie, het voorwaar 'n ervaring duisend misgeloop. Die niggietjies wat gedink het dis "boring" om met vleis te werk, is aan die einde van die week armer, en kan nie saamgesels as hierdie herinneringe deur die res van die jaar herkou word nie. Maar miskien volgende jaar....

1 comment:

mariki said...

Ag, Marietjie! Ververlang is nie die woord as ek hier lees nie. Het dit nooit self beleef nie -- net hoenders gesien koploos raak -- maar dis presies soos Oumoeder en Pa dit oorvertel het.

Wat, wat 'n voorreg dat jy dit nog kan meemaak.

Dankie vir die deel.