Wednesday, July 22, 2009

Die Lekker-Swaar van die lewe

My oorlede Ouma Ella,die wysste tannie wat ek geken het, het van tiener-blues gesê: "Meidjie, jy dink nou nie so nie, maar dis die lekker-seer van die lewe." Lang jare later het ek eers verstaan wat sy bedoel het.

Wanneer 'n mens die luuksheid het om oor kleinserige sake te kla, soos met die witbrood onder die arm, en steeds sonder moeite aan die lewe kan bly, dan kwalifiseer dit vir Lekker-Seer.

As die bron van jou irritasie 'n ekstra in jou lewe is, en dus nie allernoodsaaklik vir jou voortbestaan nie, dan is dit mos jou eie keuse om dit in jou lewe te hê, dus Lekker-Seer. Die rede waarom die irritasie steeds sit, moet wees dat daar wel voordele of genot ook aan die irritasie verbonde is, of hoe?

Soos my hoenderboerdery. Die mooiste ou goedjies, en 'n heerlike stokperdjie, MAAR daar's 'n wolf in die bos. Of liewer, 'n honger vlei-otter. Die dierasie het nou die laaste twee hoendertjies ook gevang en opgevreet. Ek wens ek kon dit verander, maar otters is ook al skaars, en hulle moet seker ook eet. My hoenders was nou lekker kitskos - maklik om te vang. Maar wag maar, ou Ottertjie, ek gaan weer kapokkies kry, en dan sal die slaaphok otter-proef wees. Jy sal dan voor die geslote hek moet staan en kwyl, of iets anders gaan vang. Die verlies van my hoendertjies is hartseer, maar ek kan nog ongedeerd met my lewe voortgaan - die uitdaging is net om die otter volgende keer te uitoorlê.

Lekker-Seer is wanneer jy nie seker is of die man waarin jy belangstel, ook so oor jou voel nie. Seer-seer is wanneer jou man na jare van getroude lewe nie meer belangstel in huis of gesin nie, en vir 'n egskeiding vra.

So is dit met menige mens en sy werksomstandighede ook die geval. Lang ure, morrige medewerkers, stowwerige kantore, noem maar op. Die klippie in die skoen wat naderhand voel soos die Rots van Gibraltar - vas en onvermydelik. Dikwels is daar net 'n vars manier van kyk nodig om die oplossing nader te bring.

Hoe gemaak met klere wat elke seisoen krimp? Maak nie saak hoe groot die nommer nie, die klere sit knap. Dis ook 'n Lekker-Seer, want jy kan nog nuwe klere koop, jy kan nog sien hoe dit lyk, jy gaan nog êrens heen waar jy wil goed lyk, jy eet nog - alles deel van die lekker. Seer-Seer is wanneer die klere weens siekte, ondervoeding, armoede soos sakke om jou hang, want dis vir iemand anders se lyf gemaak. Seer-seer is wanner die kindertjies se oë so groot soos pierings is, hul wangbene hol en hul magies boep van geen kos, of soms blare en gras eet.

Lekker-Seer is die vaal gevoel die oggend na die lekker onthaal van die vorige aand. Seer-Seer is die gesin wat elke aand in vrees en bewing sit omdat Pa of Ma weer by die kroeg langs huis toe kom, en "in 'n bui" sal wees. Dis seer as die broodgeld, of die dokter se geld ook in die kroeg agtergebly het.

Lekker-Seer is wanneer 'n ma haar tiener moet aanspreek oor haarstyl, kleredrag, tafelmaniere, telefoonetiket. Seer-Seer is wanneer die tiener voor jou sit, maar so onbereikbaar ver is soos die anderkant van die wêreld, want die dwelms beheer hom/haar nou.

Lekker-Seer is om te moet raas as die tiener te laat huis toe kom, of nie laat weet het dat die partytjie langer aangehou het nie. Seer-seer is as jy nie weet waar jou kind is, of hoe om hom/haar in die hande te kry nie.

Lekker-Seer is wanneer jy meer tyd aan jou begroting moet afstaan om al die gaatjies toe te stop. Seer-Seer is wanneer daar niks is om mee of voor te begroot nie.

Die verlies van my hoendertjies, is definitief deel van die Lekker-Seer. Uit en uit lekker gaan dit wees om weer van voor af te begin met nuwe hoendertjies in 'n otterdigte slaaphok.

1 comment:

mariki said...

Alle simpatie. Maar hoera vir jou wyse kyk op sake!