Wednesday, November 24, 2010

Kleintyd aangeleer

Wie was nog nooit stomgeslaan deur 'n kleinding se vindingrykheid nie?

Gister het ons ons Bybelstudie vir die jaar afgesluit.  Selfs aan ons kant van vyftig geld die skoolvakansies nog steeds. Miskien selfs meer as voorheen, want nou is dit ons hoogtepunt wanneer ou kennisse, en veral nuwe nasate kom kuier.  Maande vooraf word die spyskaart reeds uitgewerk, en alles wat vooraf gedoen kan word, word vooraf gedoen.  Teen die tyd dat die gaste opdaag, is ons stokflou, maar dan kan ons KUIER.

Die ou klein mensies neem ons heeltemal oor.  Daar hoef nie eers 'n bloedband te wees nie. Ons is mal oor kindertjies. Gee ons 'n halwe kans om van hulle te vertel, en jy kry ons nie weer stil nie!

Bettie moes gister se Bybelstudie open.  Sy lees toe vir ons 'n handgeskrewe boekie, die handewerk van haar 8-jarige kleindogter voor. Die hele Kersverhaal soos wat sy dit verstaan. Dit was kosbaar.
Die engel het aan Maria verskyn terwyl sy besig was om appels te pluk.  Elke gedagte is met prentjies toegelig.
Die ster het eers bokant Herodus se paleis gaan stilstaan, en dis hoe die wyse manne by hom uitgekom het. Hy het hulle toe na Bethlehem gestuur. Josef en Maria het getrou, en toe Maria die nag na Jesus se geboorte in die stal by die Kindjie wakkergebly het, het Josef gaan slaap.

Dit wys dat kinders van kleins af meer oplettend is as wat ons soms besef of verwag.

Klein Philip, Catrien se 5-jarige klein Vrystatertjie, het onlangs saam met sy ouers na 'n nuwe dorp verhuis. Die bure is uiteraard almal vreemd.

Toe daar 'n sjinese oom aan die deur kom klop, het Philip aangeneem dis een van die nuwe bure. Die oom vra toe kos, en Philip sê hy moet net so 'n bietjie wag, hy gaan gou-gou sy ma roep.

Ongelukkig kon hy haar toe nie in die hande kry nie, en toe hy weer buite kom, is die oom besig om in die vullissakke rond te krap op soek na kos.
Philip klim toe maar oor die tuinmuur, en help die oom om in al die sakke vir kos te soek - hy kry dan nie sy ma sodat sy die oom kan help nie.

Die tuinman het Philip daar kom wegneem en gesê dat hy nie met vreemde mense in die sakke kan rondkrap nie, want vreemde mense kan hom kwaad aandoen.

Hiervan wou die klein mannetjie net niks weet nie, want die oom is honger, en hy het hom net gehelp om kos te soek.

'n Mens hoef nie heldersiende te wees om te weet dat Bettie se kinders hul doopgelofte van die begin af nakom en hul kinders in die Here se weë grootmaak, of dat Catrien se dogter altyd kos en tyd het vir honger mense wat haar pad sou kruis nie.

Leef ons almal elke dag so dat die kindertjies maar ons voorbeeld kan volg?

No comments: