Saturday, November 13, 2010

Antoinette se Beroerte

Ons hier in Danabaai is omtrent almal so regs van veertig.  Nee, laat ek maar eerlik wees, so regs van vyftig jaar oud.


Dit is mos nou maar so dat mens op hierdie leeftyd al meer in die omgewing van brille en pille rondbeweeg.  Die groot maandelikse uitdaging is om die kruideniersrekening en die apteekrekening teen mekaar op te weeg. Na elke verhoging in die brandstofprys, is die kruideniersware duurder, en kos dit mooi beplan om die apteker te betaal. Nader aan die einde van die jaar, is die mediese fonds uitgeput, en moet ons weer van die kosrekening afknyp om vir doktersbesoeke en medisyne te betaal. Niemand wil willens en wetens in die Feestyd siek word, of erger nog, in die hospitaal beland nie. Hoe dan gemaak met die kleinkinders, die kinders, ander familie en vriende wat wil kom kuier?


So kom en gaan die seisoene en so leef ons hier teen die Suidkus met al die getye van die lewe saam.  Soms hoogwater, soms laagwater, en so aan.


Antoinette woon ook hier, en moet ook maar soos ons almal rekening hou met die getye en seisoene. Wat haar besonders maak, is dat sy haar naam, wat "Beyond Praise" beteken, waardig is op al die terreine van die alledaagse bestaan. So sing sy in die koor, dien op die kerkraad, neem deel aan ons eie konserte, maak kos en bak koekies, werk vir die sopkombuis, en is sy boonop 'n regte platjie en vol omgee vir haar medemens.


Een Sondag, voor die diens in die konsistorie, voel Antoinette so 'n bietjie dronkerig...duiselig, maar sy steur haar nie te veel daaraan nie. Neem net kennis daarvan. Hier in die regterkantste jare raak mens mos meer bekommerd as jy NIKS makeer nie, want dan moet jy mooi om jou rondkyk voordat jy seker is of jy maar kan ontspan.


Toe Dominee begin preek, raak sy meer bekommerd, want sy kom toe agter dat haar oë nie lekker fokus nie. Sy sien twee predikante, en altwee ewe dof...


Sy besef dat dit 'n beroerte kan wees.  Beroerte! Sy moet hier uit! Sy moet by 'n dokter kom! Die hospitaal! Hoe om van voor in die kerk tot agter by die deur te kom, skep 'n probleem. Die alternatief is om verby die preekstoel en deur die konsistorie uit te gaan - dis hoe sy ingekom het.


Tertius. Op 'n manier moet sy haar man,Tertius, se aandag op haar dilemma en haar toestand vestig. Hoe? Dink, Antoinette, dink. Sy wil nie die hele diens ontwrig nie, en Tertius luister aandagtig na die preek. Sy is nogal bang om alleen te probeer opstaan. Sy begin sweet.


Langs haar sit die seun wat by hulle loseer. Hy kom naderhand agter dat iets aan Antoinette 'n bietjie snaaks is, en probeer om haar aandag te trek. Onopsigtelik, natuurlik.


Antoinette is in haar eie dilemma vasgevang, en nie so oplettend soos altyd nie. Sy het ook nie veel aan die diens nie, want haar gedagtes is verstrengel in 'n stryd om oorlewing.


Uiteindelik dring dit asof van ver af tot haar deur dat iemand aan haar stamp. Dis die loseerder: "Tannie, wat is fout met Tannie se bril?"


Haar bril? Antoinette haal die bril af - dit het net een lens!


As elke beroertepasiënt maar so vinnig kon herstel.


As die ekonomie maar so vinnig uit die resessie kon kom.


As is verbrande hout, maar ons kan darem 'n bietjie hitte put uit die lekkerte van die oorvertel en die lag wanneer ons dit weer herkou en rustig nabetragting hou.


Viva! regs van vyftig, Viva! Viva, vele nuanses, Viva!

1 comment:

absolutwillie said...

Sjoe! Ek was ernstig bekommerd!!!
Het sommer met 'n brul van 'n lag uitgeval toe dinge "duidelik" word :0)

Baie lief vir Mamma!!