Wednesday, January 5, 2011

Huldeblyk aan Oupa Lou

Ons dank, lof en eer aan God ons Hemelse Vader wat ons geseën het met die lewe van ons man, pa en oupa, LOURENS ANDRIES STEPHANUS VAN ASWEGEN, vir 79 jaar, 4 maande en 25 dae. Vir ons is dit betekenisvol dat hy juis op Kersdag teruggeroep is Huis toe.

Ralie , die kinders en kleinkinders

Oupa Lou

Hoe begin mens om Oupa Lou in woorde vas te vat? Lourens Andries Stephanus van Aswegen is op 31 Julie 1931 in Vereeniging distrik gebore. Hier het hy ook grootgeword, en later op Potchefstroom sy skoolopleiding in Engels afgesluit. Na skool het hy eers as betaalmeester by Yskor gewerk, maar die boerdery het hom geroep. In sy wese en sy hart was hy eintlik heeltyd 'n boer.

Boerdery het hom na Hekpoort geneem, waar hy en Ma met draadspan en huisbou begin het. Later jare het die droogte hom verdryf, en het hy vir 'n klomp jare by die Harbeeshoek Radioruimte-navorsingstasie gewerk, en baie vinnig opgang gemaak. Ons kinders het gedink dat alle pa's wat ander werk as boer ook doen, deur NASA betaal word, en volksvreemde kollegas huis toe bring wat wonderlike stories kan vertel. Ons het ook gedink alle pa's studeer wanneer hulle nie werk nie, en dat alle ma's mens met 'n "Sjuut, Pappa Leer" groet as jy luidrugtig van die skool af kom.

Nadat die SA Poskantoor die satelietstasie oorgeneem het in die 70's, is Pa en Ma Vryheid toe. Hier het hulle met beeste geboer, en baie goed gedoen. So met die tyd het pa 'n hele aantal plase daar besit. Rassespanning het begin kop uitsteek, en Pa en Ma het toe in 1988 Suid-Kaap toe gekom, waar hulle weer 'n "rou plaas" gekoop, dit Fynboskruin gedoop, en begin verbeter het. Pa se droom was om hierdie plaas te ontwikkel in 'n aanwins vir die Suid-Kaap, maar hy kon nie toestemming daarvoor kry nie. Die plaas is toe goed verkoop, en Pa en Ma het Rodgerstraat, dorp toe getrek.

In die dorpshuis het Pa baie aandag aan sy sakebedrywighede gegee, maar nie van boerdery afgesien nie. Die plase Hopewell by Graaff-Reinet en Rietvlei by Gouritzmond getuig van sy liefde vir die grond.

Pa was self 'n man met baie interessante stories, en hy kon in elke geselskap aanpas, en onderhou-dend en boeiend gesels. Hy het belanggestel in elkeen se storie – van die bedelaar wat sy gediggies saambring, die boer wat gis oor die oesskatting, tot die professionele konsultant, die predikant en die musikant. Hy het 'n onblusbare nuuskierigheid gehad – nie net oppervlakkig nie, in detail wou hy van alles weet.

Mense sê dat Pa respek afgedwing het wanneer hy met sy twee krukke in 'n vertrek instap. Sy gesag het soos 'n mantel om hom gehang.

Hy en Ma was 'n onverskrokke en onverdeelbare span. Selfs in die dae toe hulle deur die polisie in hulle eie huis opgepas moes word omdat hulle doodsdreigemente ontvang het, het hulle die humor in die situasie raakgesien, en was dìt waar die klem met die oorvertelling geval het.

Op sy kleinkinders was hy erg trots. Hoewel hy baie streng met hulle was, en hulle niks oorgesien het nie, sodat dit soms maar moeilik was om aan hom verwant te wees, was die bedoeling altyd suiwer tot voordeel van die kind. Willie se gedigte en filosofiese stukke en oorsese werk, Rachel se vasberadenheid, haar ysere wil en haar raakvat, Lou se handigheid en hardwerkendheid, Maxie se akademiese mylpale en openheid, Mari se koorsang en haar welsprekendheid, Stefan se skool- en sportprestasies en Philip se ondeundheid en agterplaasboerdery was vir Oupa ewe belangrik. Hy het egter baie klem op akademiese prestasie geplaas, en elkeen se heel beste van hom/haar verwag.

Pa het homself as 'n sakeman beskryf, maar hy was veel meer as dit. Vir Ma was hy die rotsvaste man wat alle situasies kon hanteer en ten goede kon omkeer, vir ons kinders was hy oral, en het hy van alles geweet . Vir die kleinkinders was hy 'n bron van humor, 'n kwaai sedebewaarder en beskermer van morele waardes, en 'n helpende hand in tyd van nood. Vir diegene wat nie geweet het van sy harde werk, deeglike navorsing oor elke ding, en intense insette nie, het hy die "Midas-touch" gehad.

Vir vriende was hy 'n gesellige maat, vir die gemeenskap 'n weldoener. Hy en Ma het sonder om enige iets terug te verwag, gesorg vir die oprigting van Huis Elsjé (vir Alzheimerlyers) hier by Heiderand en ook 'n Liefdadigheidstrust geskep waaruit ander gehelp kan word. Hieruit is 'n paar ouerlose kinders gehelp om te studeer, voedingsprogramme finansieel bygestaan, 'n versorgingsoord aangekoop om Huis Elsjé aan te vul, en 'n kleuterskool gehelp om te kan voortbestaan. Vir almal wat hom geken het was hy 'n vergestalting van eerbaarheid en nederigheid.

Voor die Here was hy nederig en afhanklik, maar terdeë bewus van sy eie onvolmaaktheid en naaktheid voor God. Hy het nie met sy geloof te koop geloop nie, maar in enige ernstige gesprek het sy totale afhanklikheid en gehoorsaamheid aan die Here God baie duidelik na vore getree.

Vir die dood was hy gereed. Hy het met die ontvangs van die diagnose vir ons gesê dat dit nou tyd is vir hom om te gaan, en dat hy gereed was. Hy het nie onafgehandelde sake nagelaat nie.


 

Van Maxie : (Skoondogter)

Dankie. Woorde kan nie my dankbaarheid beskryf, maar al wat ek kan sê is dankie dat ek die voorreg gehad het om vir Lou van Aswegen as my skoonpa te kon gehad het, dit was 'n ware voorreg om deel van sy lewe te kon wees.

Om hom te beskryf is nie moeilik nie: gefokus, gedetermineerd en geweldig belese en 'n ysere wil. Ja, hy het presies geweet wat hy wil hê, geweet waarheen hy oppad was, en ook geweet hoe om dit te realiseer, en het dit met 'n uiterse selfdissipline afgehandel. Hy het niks aan die toeval oorgelaat nie, en kon met 'n suiwer enkel beweging enige saak saamvat en finaliseer. Hy het my telkemale verstom met sy onuitputbare energie wat hy tot op die einde gehad het.

Pa, dankie vir die waardevolle lewenslesse wat jy aan my oorgedra het, jou onberispelike voorbeeld van familie liefde en sorgsaamheid. Jy was 'n wonderlike skoonpa vir my en liefdevolle oupa. Mag die Vader nou vir Pa in Sy arms toevou en bewaar op pad na sy nuwe avontuur en hemelse reis wat pa nou aangepak het.

Pa, ek gaan jou geweldig mis…. Liefde groete, Maxie


 

Van Willie uit Taiwan:

"Wat verwag jy van die lewe?" het Oupa my gevra. "Niks," was my antwoord, "die

lewe skuld my niks." Ons het nie destyds mekaar verstaan nie. Maar, gelukkug

het ek die kans gehad om voor hom 'n man te word - en om, met sy bystand, wye

paaie van menswees te verken. Selfs hier, aan die anderkant van die planeet,

wys sy voorbeeld en woorde my steeds wat dit beteken om na waarde te lewe. Met

ons laaste kuier, in sy kamer, het ek en Oupa kans gehad om 'n sirkel te

voltooi: "Wat verwag jy van die lewe?" Ek wens almal kon hierdie Oupa ken...

die Oupa Lou wat met sagte oë in my siel kon sien - en aanvaar het wat hy daar

gevind het. "Liefde en trou," was my antwoord - en ons het albei verstaan.


 


 

Van Rachel :

Die eienskap van Oupa wat vir my uitstaan, is sy liefde vir die lewe en vir sy familie. Hoewel hy dit soms agtetr kwaaiheid of grappies weggesteek het, was dit altyd daar. Alles wat hy aangepak en gedoen het, het hy met die langetrmynplan gedoen om vir sy nageslag die dinge in die toekoms makliker of beter te maak. Oupa en Ouma het soms dinge ontbeer ter wille van hul toekomsdroom vir ons, die nageslag. Oupa was altyd 'n vooruitdenkende man.

Die ander ding van Oupa, was dat hy altyd 'n plan gehad het. Hy was altyd besig met een of ander idee, en sy brein het oortyd gewerk. Hy het nooit loop en spog met dit wat hy bereik het nie, maar het baie dinge "teen sy bors" gehou. Hy was plat op die aarde en ongemaklik met te veel aandag van enige aard.

Die mooiste herinnering wat ek het, is aan die verhouding tussen Oupa en Ouma. Hulle was ongelooflik lief vir mekaar – onafskeidbaar. Oupa was vir ewig besig om Ouma se siel uit te trek, en sy mond het oorgeloop van die mooi en die goed en die snaaks in haar. Selfs in stresvolle situasies, soos wanneer hulle vir 'n hofsaak voorberei het, kon Oupa nie help om te spog met Ouma se "oog wat 'n bars kan kyk en selfs die skelmste ou laat struikel oor sy leuens nie."

Wanneer Oupa ontspan het, en begin "konverseer" het, was dit as klein dogtertjie die heel lekkerste tye. Dan het Oupa stories en staaltjies vertel en grappies gemaak dat ons naderhand seermaag is van al die lag.

Ek sal sy hardwerkendheid, sy kwinkslae, sy oplettendheid, sy geselligheid, sy behoefte om te help, en sy skewe glimlag altyd onthou.


 

Van Lou:

Respek is die eerste ding wat in my kop kom as ek aan Oupa Lou dink. Ek het Oupa gesien as die generaal van 'n familie wat sukses bereik het met die ondersteuning, wysheid en leiding van 'n liefdevolle vader en Oupa.

Oupa het my altyd opgebou om 'n beter mens te wees en om liefde en meegevoel vir ander te hê. Daar is dinge wat 'n kleinseun net by sy oupa kan leer, en ek het die beste gehad.

Oupa, dankie vir al die mooi stories en herinneringe wat ek met oupa deur die jare kon opbou. Ek gaan Oupa baie verlang en altyd in my hart dra. Lief vir Oupa


 

Van Maxie: (Kleindogter)

Liewe Oupa, ek kan net dankie sê dat ek deel kon wees van jou lewe, dat ek die voorreg gehad het om soveel wyshede van jou te kon leer, en wanneer ons vashaak met die skeinat en wiskunde het jy gehelp om dit uit te redeneer.

Jou lag en vlymskerp sêgoed kan ons nooit vergeet nie. Jy was vir ons 'n ware voorbeeld gewees en 'n liefdevolle oupa waarop elke kleinkind kan trots wees.

Oupa, ek gaan jou baie mis. Jy laat 'n groot leemte na.

Liefde,

Maxie


 

Van Mari:

Oupa

Daar is soveel dinge wat oupa al vir my vertel en geleer het. Al sal ek altyd die lesse en stories onthou is daar een aspek van oupa wat ek die meeste gaan mis en elke dag aan dink. Dit is die manier hoe Oupa altyd vol luiefde en uit die hart en maag gelag het. Oupa was, is, en sal altyd die persoon wees wat my en enige iemand kan laat beter voel deur net te glimlag.

Oupa het gelag net soos Oupa geleef het, Voluit!

Elke ete om die tafel sonder Oupa se gebed en geselskap voel leeg en sinneloos, maar ek sal Oupa elke keer daar sien en hoor al is Oupa nie daar nie.

Oupa was ons skeinat- en strooipraat koning en elke omblik wat ek saam met oupa kan onthou, goed en sleg, sal my altyd bybly.

Oupa se diep stem sal altyd my hart warm hou en my veilig laat voel. Dankie

Liefde, Oupa se Engel.


 


 


 

Van Stefan:

Anderste as die feit dat hy die mees gerespekteerde persoon is wat in my famielie is oftewel wat ek ken, is daar 'n klomp verskeie goed wat ek van dié oupa onthou. Vir watter rede ek nie weet nie is die dag toe hy my leer gholf speel het die ding wat ek die meeste kan onthou. Ek was maar nog net 'n tjokkertjie en ons het nog in Vryheid gebly. Ek dink ek was so 8 of 9. Ons het een Desember vakansie by my oupa hulle gaan kuier op hulle plaas in Sedgefield. Hy het my geleer gholf speel en voordat ek kon weet het ek perongeluk 'n groot gat in sy kop geslaan. Hy was toe glad nie kwaad vir my nie en hy het verstaan dat dit net 'n ongeluk was. Dit was ook een van die dae wat ek die grootste geskrik het in my lewe. Nog 'n ding wat ek kan onthou is die stories wat hy vertel het elke keer as ons vir hom gaan kuier het.


 

Van Philip:

Dit is maklik, sy stories. Ek onthou nog die laaste storie wat hy ons vertel het. Dit gan oor Jag. Die jagter was sy broer, oom Gert. Oupa wou vir ons die plek wys waar dit plaas gevind het. Daar was n krip met water in, en daar was n klipwal gebou langs die krip. Oom Gert het by die wal aangelê. Ek weet nie wat se geweer of bok hy gejag het nie maar hy het 5 patrone gehad. Toe kom die bok by die krip aan, toe skiet hy sy eerste skoot en die bok hardloop. Hy skiet weer en die bok draai om en hardloop na hom toe. Toe skiet hy al sy patrone op en die bok bly na hom toe hardloop. Toe vat hy 'n klip en gooi die bok se horings mors af en die bok val net daar voor hom dood. Dit is wat ek die meeste kan onthou van Oupa Lou.

No comments: