Wednesday, January 5, 2011

Briewe van Ester (3)

My liewe vriendin, Rachel,

Ek hoop dat jy goeie gesondheid en vrede beleef wanneer jy hierdie brief ontvang. Dit doen my goed om van jou te verneem dat die Here jou en jou familie ook seën en bewaar.

Hier in Susan begin die dae nou korter en koeler raak. Dit herinner my daaraan dat die lewe ook in seisoene opgedeel is. 'n Mens sou seker kon sê dat ek nou in die laatherfs van my lewe is? Darem seker nog nie die winter nie! Ek voel oor die algemeen nog baie goed en gesond, maar kan myself nie meer as jeugdig beskryf nie...

Nou-ja, ek het laas beloof om jou van die ambisieuse Haman te vertel. Dit is 'n baie lang storie. Ai, die Haman was regtig 'n baie arrogante mens. Hy was vas oortuig van sy belangrikheid en het homself as ver verhewe bo die gewone burgers en amptenare geag. Hy was ook nie skaam om by elke moontlike geleentheid te vertel van sy dade, sy vermoëns, sy kennis en sy belangrikheid nie – maar hy was ook uitgeslape genoeg om homself baie nederig aan die koning te wy, en te getuig van sy hoë agting en sy onmeetlike trouheid aan Koning Ahasveros.

Hy het die koning regtig beïndruk. Die koning het dit dan ook goedgedink om Haman te vereer bo die ander burgers in sy koningkryk. So is Haman, seun van Hammedat die Agagiet, se setel dan ook deur die koning hoër gestel as enige van die vorste wat by die koning was. Dit was egter nie al nie. Die koning het verder beveel dat al die dienaars van die koning wat in die poort van die koning was, voor Haman moes buig en neerval. Soos voor 'n soort god! Verbeel jou!

Ag, Vriendin, jy ken mos nou ons Jode se manier. Ons mag slegs die Ek Is aanbid, en slegs voor ons God, die Enigste Lewenge en Almagtige God, die knie buig.

Mordegai was ook nog steeds elke dag in die poort op wag. Dis seker nie nodig om te verduidelik wat gebeur het nie, né? Mordegai het nie voor Haman gebuig of neergeval nie. Hy het ongestoord sy gang gegaan. Die ander paleisdienaars wou by Mordegai weet waarom hy nie die bevel van die koning gehoorsaam nie. Elke liewe dag het hulle hom met die vraag geteister - wou hulle by hom weet waarom hy nie buig en neerval nie. Mordegai het toe maar erken dat hy 'n Jood is, en die Ewige God aanbid. Natuurlik was dit mos nie vir die ander nasies 'n geldige verduideliking nie. Wat is dan nou so danig anders aan 'n Jood en ons God??

Die ander wou ook weet wat nou eintlik sou gebeur as iemand die koning se bevel aangaande Haman se verering sou verontagsaam. Hulle was ook nuuskierig om te weet wat Haman daarvan sou maak as hy uitvind van Mordegai en sy geloof. Hulle het besluit om uit te vind, en vir Haman gaan vertel dat Mordegai weier om aan hom hulde te bring en hom te vereer soos deur die koning beveel...

Heel voorspelbaar was die grote Haman woedend toe hy hoor dat Mordegai nie buig of voor hom neerval nie. Hy het homself egter te belangrik geag om teen een Jood op te tree. Om watter rede sou hy hom aan hierdie onbelangrike en onkundige man steur? Nee wat, dit het hom nie betaam om so laag te daal en hom met 'n enkele lid van die verstrooide volk te bemoei nie. Nee, hy het gesmag na vergelding op groot skaal. Die hele Joodse volk – al Mordegai se volksgenote moes verdelg word om sy oortreding na behore te straf.

So het dit dan gekom dat die lot weer eens gewerp is. Op die dertiende dag van die eerste maand (Nisan)van die twaalfde jaar van koning Ahasveros se bewind, is die Pur voor Haman gewerp om vas te stel watter dag die geskikste sou wees om hierdie lastige volk te verdelg. Vir elke dag van elke maand van die jaar is die Pur geraadpleeg. Die Pur het gewys dat die dertiende dag van die twaalfde maand (Adar) die beste dag sou wees.

Hierop het Haman dan na koning Ahasveros toe gegaan, en sy saak gestel. Hy was goed voorbereid, en het natuurlik weer met 'n ompad gekom. Hy het aan die koning genoem dat daar onder al die volke onder die koning se bewind een volk was, 'n verstrooide en afgesonderde volk, wat hul eie wette hou. Hulle wette is anders as die wette van al die ander volke, en hulle hou ook nie by die koning se wette nie. Na Haman se mening sou dit die koning nie pas om die toedrag van sake ongestraf te laat voortduur nie. Een vrot vrug kan die hele oes vernietig.

Haman, as allergetroustee onderdaan van die koning, het voorgestel dat, indien die koning dit sou goedvind, daar 'n wet uitgevaardig moes word om al die Jode te verdelg. Hy wat Haman is, sou self 10,000 talente silwer afweeg om deur die paleisamptenare by die skat van die koning te voeg. Hy wou sy deel bydra om die koning se mag vir eens en vir altyd onbetwisbaar te bewys. Nogal.

Koning Ahasveros het hierop sy seëlring van sy vinger afgehaal, en dit aan Haman gegee, en gesê dat die silwer, asook die Joodse volk aan Haman gegee moet word om mee te handel soos hy goeddink. Haman was buite homself van vreugde. Nie net word sy vernedering deur die Jood gewreek nie, maar die koning bewys sy vertroue en hoë agting vir Haman en sy oordeel bo enige twyfel. En hy kan kies wat met die Jode moet gebeur...

Om die saak te vererger, kom Haman se besluit toe ook uit. Die skrywers is laat kom, en op daardie derdiente dag van die maand Nisan, is briewe met hardlopers na al die provinsies gestuur. Soos die gebruik was, is elke provinsie se brief in sy eie taal en skrif geskryf, sodat almal dit kon verstaan, en daar geen twyfel kon bestaan oor die inhoud van die briewe nie. Hierdie briewe is deur Haman geskryf in die naam van die koning, en met die koning se seëlring beseël. Meer amptelik kon dit nie. Dit was ook nou 'n onherroeplike wet van die Meders en die Perse.

Die opdrag was dat alle Jode op die dertiende dag van die twaalfde maand in die twaalfde regeringsjaar van die koning verdelg moes word. Niemand mag vrygekom het nie. Die briewe het dit duidelik gestel dat sowel die seun as die grysaard, die kindertjies en die vroue op dieselfde dag in die maand Adar uitgeroei moes word, en hul besittings as buit geplunder moes word. Daar mag niks van die Jode oorbly nie.

Verder moes 'n afskrif van die bevelskrif as wet in elke provinsie uitgevaardig en bekendgemaak word. Al die volke moes gereed wees om die wet op die bepaalde dag ten uitvoer te bring.

Die hardlopers is haastig met die briewe weg, en in Susan is die bevel uitgevaardig terwyl die koning en Haman in die paleis sit en drink het.

Die stad Susan was in verwarring.

Mordegai het ook van die wet gehoor. Hy het sy klere geskeur, 'n roukleed aangetrek en met as oor sy hoof uitgegaan en dwarsdeur die stad geloop en hard en bitter geskreeu. Hy het tot voor die koning se poort gekom – niemand mag met rouklere aan by die poort van die koning ingaan nie.

Kan jy dink hoe benoud ek was? My volkstatus was mos nou bekend. Almal het geweet dat ek Mordegai se pleegkind was, en nou weet almal dat ek 'n Jodin is. My posisie was baie onveilig. In die paleisgange is gefluister en geskimp. Die dag van ons verdelging het al hoe nader gekom. Om te dink, die woorde waarmee Mordegai met my hulp verantwoordelik was dat die koning nie vermoor is nie, was skaars koud!

Ek het vir Hatag, een van die hofdienaars wat deur die koning aan my gegee is, beveel om na Mordegai te gaan en by hom uit te vind presies wat aan die gang was.

In al die provinsies waar die bevel uitgevaardig was, was die toneel dieselfde. Die Jode het gevas met geween en rouklag. Die volk was in hul verstrooiing in sak en as.

Liewe Mordegai het die hele verhaal aan Hatag meegedeel. Selfs die presiese bedrag silwer wat Haman uitgeweeg het om die Jode se val te finansier – alles. Hy het ook vir Hatag 'n afskrif van die bevelskrif gegee om aan my te wys, sodat ek kon weet wat gebeur het. Dit was 'n baie benoude tyd in my lewe. Wat het dit gebaat dat die koning sy guns aan my bewys het, dat ek sy koningin geword het en steeds soos onkruid uitgeroei moes word omdat ek 'n Jodin, en aan die Enige God gehoorsaam was?

Ek was in 'n tweestryd. Die koning het my nou al vir dertig dae nie na hom toe laat kom nie. Sonder sy uitnodiging mag niemand voor die koning verskyn nie. Indien 'n persoon – sonder uitsondering – uit eie beweging voor die koning sou verskyn, en die koning sy septer nie na die persoon sou uitsteek nie, moes so 'n persoon doodgemaak word. My enigste kans op oorlewing was dus maar skraal. Ek moes uit eie beweging na die koning gaan, en hoop dat hy sy septer na my toe sou uitsteek dat ek mag lewe. Ek het vir Mordegai laat weet hoe 'n groot waagstuk dit sou wees om die koning om genade te gaan vra. Ek was glad nie seker dat ek hoegenaamd 'n verskil sou kon maak nie, en as ek eerlik moet wees, sou ek liewer in 'n hoekie wou wegkruip en hoop dat ek oor die hoof gesien sou word.

Mordegai het terug laat weet dat ek my nie moes verbeel dat ek die enigste Jood sou wees wat sou vrykom net omdat ek die koningin was nie. Hy het bygevoeg dat as ek nou sou swyg, daar van 'n ander kant af verligting en redding vir die Jode sou kom, maar dat ek en my familie dan sou omkom. Hy het ook gevra of hierdie situasie nie dalk die rede is waarom ek in die eerste plek my huidige posisie in die koningshuis bekom het nie. Sy harde woorde en sy onomstootlike geloof in God het my laat skaamkry.

Ek het toe versoek dat Mordegai al die Jode in Susan moes bymekaarmaak, en dat hulle om my ontwil vir drie dae en drie nagte moes vas en bid. Ek en my dienaresse sou ook vas en bid, en dan sou ek dit waag om voor die koning te verskyn. As ek dan omkom, dan kom ek om....

Dit was drie baie lang dae, glo my. Honger, swakheid en vertwyfeling teenoor vrees en die sekerte van uitdelging.... Ek het egter geweet dat ek nie die enigste Jood in hierdie posisie was nie, maar dat elke Jood in die vesting Susan die tyd op dieselfde manier as ek voor God deurbring.

Op die derde dag het ek my beste koninklike klere aangetrek, en in die binnenste voorhof van die paleis, teenor die saal van die koning, waar hy op sy koninklike troon gesit het, regoor die ingang van die saal gaan staan. Die koning kon my nie miskyk nie. Ek dink hy kon die geritsel van my klere (soos ek gebewe het) hoor.

Die koning het sy goue septer na my toe uitgesteek, en ek het versigtig nader getree, en aan die punt van die septer geraak. My bene wou my byna nie dra nie.Ek begin sommer weer te bewe as ek daaraan terugdink. Die verligting was groot, en my dank teenoor God nog groter. Nou het ek gebid om die regte woorde, sodat die koning my saak gunstig sou oorweeg. Slegs met die ingrype van God self kon ek hoop dat die koning sy bevelskrif sou herroep.

Ek vertel later verder.


 

Ester


 


 

No comments: