Tuesday, August 11, 2015

Die Tweede Kankerdiagnose

Daar is 'n (ou) Afrikaanse gesegde wat lui: "Die tweede dwaling is erger as die eerste." Ek reken dit dui daarop dat 'n mens die tweede keer in dieselfde strik trap as jy nie genoeg uit die eerste valslag geleer het nie.

Dis hoe ek voel oor die Tweede Diagnose.  Ek het dit nie verwag nie.  'n Mens is seker nooit gereed vir so iets nie, maar ek het gedink my beurt was verby.

Ek is in November 2006 met borskanker gediagnoseer, en het toe die bilaterale mastektomie, die rekonstruksie en die behandeling ondergaan.  Vir vyf jaar het ek die ou simpel pilletjie wat my so siek gemaak het, gedrink. En toe: Vryheid.

Oktober 2014 was die laaste datum vir my jaarlikse opvolgkonsultasie met die onkoloog. Wonderlik.  Ek is skoon - kanker is in remissie.  Hiep hiep hoera!

Gedurende einde Maart 2015 ontwikkel ek 'n geswelde klier onder my keel - daar waar kinders gewoonlik pampoentjies kry. Ek het nog my mangels, en reken dat dit maar net ontsteking is, en sal oorwaai.  In Meimaand dwing Manlief my dokter toe.  Hierdie ontsteking hou nou te lank aan.

Die huisdokter skryf sterk antibiotika voor, en waarsku dat ek 'n sjirurg sal moet gaan sien as die ontsteking nie opklaar nie.  Raai wat? Die eier bly ewe gerieflik sit.

Die sjirurg stuur my eers vir 'n sonar en naaldbiopsie.  Posititef vir plaveisel-karsinoom. Wat 'n slag! Hierdie karsinoom is nie familie van die eerste een nie.  Dis 'n nuwe duiwel.

Ek weet nie watse ding die plaveisel karsinoom is nie, en vra oral waar ek kom, en google die besigheid ook sommer.  Ek leer dat plaveisel karsinoom op die vel of weefsel wat in aanraking kan kom met suurstof, kan ontwikkel.  Daai borsklanker was nie so nie.  So, nou moet die oorsprong, die primêre kanker opgespoor word.  Dit kan in die lugweë, die slukderm, die mond of die anus wees. Jig.

Die onwelkome eier word verwyder, en weer gestuur vir ontleding.  Plaveisel karsinoom. Die probleem is dat daar nog van hierdie gewasse in my sagte nekweefsel sit.  Hoeveel verraad kan daar dan  in een liggaam wees?

Ek het oor kanker gedink: "Been there, done that, got the scars to show". Toe nie so maklik nie.

Hier sit ek nou weer.  'n Verdere operasie en elke toets in die boek (sommiges meer as een maal) is gedoen.  Nog 36 kliere, gewasse, goeters is verwyder.  Vier van hulle is kwaadaardig.  

Een van die toetse (PET scan)  se liggies gaan ook aan in my skildklier, en in my lewer. Hieraan is daar op hierdie stadium nog niks gedoen nie.  Die operasiewonde moet nou herstel, en daarna sal ek bestraling en chemoterapie moet kry.  Die detail van hierdie behandeling sal ek DV Vrydagmiddag hoor. Van nou af tot Vrydag, sal daar so 'n klein knaagdiertjie hier in my binneste rondskarrel, want ek kon nog nooit met grasie wag nie.

Intussen is my linkerskouer (voorheen my sterk skouer) nou oorbelas.  Sien, die lekker sterk neksening hier aan die linkerkant, het met die snoeiery van die gewasse in die slag gebly. Die skouerspiere moet nou oorpresteer.

Ek het ook nou 'n Popeye-glimlag.  'n Senuweetjie hier aan die onderkant van my gesig het tydens die operasie seergekry, en nou trek my mond skeef.  

Manlief sê ek's nou reg vir so 'n lekker kromsteelpyp - nie dat ek (of hy) al ooit gerook het nie. 

Vir myself lyk ek nou bietjie vreemd, maar almal om my probeer dit miskyk totdat ek iets daaroor sê, en dan sien hulle skielik 'n verbetering.  Ek skat hulle is erg ordentlik, of hulle raak die skewe mond gewoond.  Hoe dit ookal sy, ek was nog altyd meer as 'n senuwee, 'n klier of 'n gesigsuitdrukking.  Ek hoop om so voort te gaan.

Dis net saans, wanneer ek vir die donker skewebek trek, dat ek aan myself erken dat ek bang is vir die behandeling wat voorlê.  Ek het al erge stories, eintlik rillers, gehoor oor bestraling, en ook oor chemoterapie. Sal ek hierdie behandeling met waardigheid kan deurstaan? Sal ek dit hoegenaamd kan oorleef? Is ek sterk genoeg?

Dit is dan wanneer ek dankbaar is vir my familie, al my vriende, almal wat my liefhet, almal wat in my belangstel. almal wat vir my bid, wat moeite doen om vir my te sê ek lyk nog nes altyd.  Dit maak nie saak as hulle bietjie jok nie - dis die gedagte wat tel.

Dis dan, in die klein uurtjies van die nag, dat ek salig aan die slaap kan raak met die wete dat dit glad nie saak maak hoe ek presteer of hoe ek hierdeur gaan kom of nie gaan kom nie.  Wat wel saakmaak is dat ek veilig en geborge is in my Saligmaker se liefdevolle en almagtige hande.  Ek beleef dan ook die rustigheid in die wete dat Hy ook vir Manlief en my kinders daar sal wees wanneer hulle my dalk sou mis. Dan besef ek weer: aan iets moet ons almal doodgaan. Dit kan seker net sowel kanker as enige iets anders wees.  

Wanneer tyd nie meer tel nie, sal ons ook die antwoorde op die raaisels van hierdie lewe, waaronder  vigs, Alzheimer se siekte, depressie, kanker, armoede, misdaad en alle ander ellendes hê. (Ek weet nie of ons ooit politici sal kan verstaan nie, maar dit sal nie meer saakmaak nie.)

Tot dan sal ek vasbyt, aanhou bid, aanhou glo, aanhou wees. 





No comments: