Friday, November 20, 2015

KANKER: STEEDS IS'T HET EINDE NIET

Ek het in November 2006 uitgevind dat ek borskanker het.  Dié is onmiddellik aangespreek, en na 'n bilaterale mastektomie, rekonstruksie, en tamoksifien-behandeling, is die kanker in remissie.  Met die laaste opvolgkonsultasie in Oktober 2014, is ek steeds skoon! Wonderlike nuus!

In Maart 2015, net na Ouma Tiela (my Skoonma) se begrafnis, ontwikkel 'n swelsel onder my linkerkakebeen wat nie op antibiotika reageer nie.  'n Biopsie en 'n naaldbiopsie, en elke ander toets in die boek later, kry die ongewenste groeisel 'n naam.  Plaveisel Karsinoom.  Op die PET-scan flikker daar 'n liggie op my skiledklier en een in my lewer ook.  Die primêre sondebok bly onbekend, maar die onkoloë reken dat dit iewers in die osophagus-area gesetel moet wees.  Hierdie afleiding word gemaak na aanleiding van die gedrag van die onding.

Nog toetse, by drie verskillende hospitale in Kaapstad, en 'n radikale nekdisseksie later, meld ek weer by die Outeniqua Onkologie-eenheid aan vir behandeling.  Die behandelingsplan sluit dertig hoë dosis bestralingsessies, asook drie chemo-terapiesessies in.  Ons hoop dat die kanker betyds gediagnoseer is, en dat die behandeling hom op die neus gaan slaan.

Vir ses weke lank word daar elke dag George toe gery vanaf Mosselbaai vir die bestraling.  Manlief word nogals erg verontrief, want hy wil opsluit self by wees.  Ek is ook maar bly vir sy ondersteuning.

Sien, my ma is in Huis Elsjé waar sy versorg word omdat sy aan Alzheimer se siekte ly, en ek haar nie meer alleen kan versorg nie.  Ek het vir haar gejok oor die operasie aan my keel, want ek wou nie hê dat sy haar ontstel oor 'n saak waaroor sy geen beheer het nie.  Ek het vir haar gesê dat hulle my mangels uitgehaal het.. Sy het dit gesluk, hoewel die operasiewonde met die skeefgetrekte mond en die geswel onder my keel maar baie onwaarskynlik moes lyk. Haar enigste vraag was: "En hulle los jou so lelik?"  Ek mis dit om met my ma te kan gesels oor my eie bekommernisse, maar dis mos maar hoe die lewe is....

Twee van die chemo-terapiesessies realiseer, maar aangesien ek so sukkel om te sluk, en ontwater  besluit die onkoloog dat dit onnodig wreed sal wees om met die derde sessie voort te gaan.  Ek ontvang vloeistof binne-aars om die ontwatering teë te werk.

Die etery werk nie uit nie.  In Week 4 van die bestraling kom besoek Ian en Kim die onkologie-eenheig uit Johannesburg.  Hulle kom ons van hul ondersteuningsgroep vir Kop- en Nekkanker vertel.

Hierdie sessie is baie leersaam en insiggewend.  Ons leer dat die eetprobleem en die uitdaging om vloeistof in te neem, algemeen is by hierdie soort kanker.  Ons besluit om 'n eie ondersteunngsgroep by Outeniqua te begin sodra ek sterker is, en al die administrasie daaromheen gedoen is.  Willem is ook baie opgewonde oor die moontlikheid van bewusmaking en saamdra aan mekaar se laste.  Op die ou einde het die pasiënt en sy/haar primêre versorger baie raad en wenke oor hoe om ook hierdie stryd draagliker te maak.  Elke ou hoef nie noodwendig die wiel van voor af te ontwerp nie.

Sonder dat ek wil, verloor ek gewig.  Gelukkig is ek met 'n "dankbare gees" geseën (vriendin Rihetta Swart se opmerking), en bly ons positief.

Daar bly egter so 'n klein stukkie kommer iewers krap.  Wat van daai dingetjie in my lewer?  Daar was sprake dat hy sommer tydens die nekdisseksie "gezap" of "ge-nuke" of ge-iets sou word, maar dit het nie gebeur nie omdat die operasie te lank geneem het.

Uiteindelik is die  behandeling verby, tyd is gegun vir herstel, en nou gaan ons weer 'n CT-scan doen om die lewere te evalueer.

Skok der skokke!  Waar die een liggie ons laas met sy teenwoordigheid getart het, sit daar nou drie menere.  9mm, 10mm en 13mm groot.  Hoe kan dit wees?  My kop wil dit nie verwerk nie.  Ek wil dit nie aanvaar nie.

Is hierdie drie nou van dieselfde stoffasie as die plaveiselkarsinoom in my keel? Is daar plaveisel in 'n mens se lewer? Sit daar nog êrens 'n primêre duiwel wat sy wilde hawer rondstrooi en van my liggaam 'n bose saailand maak? Baie vrae, min antwoorde.

Wat ek wel in die proses geleer het, is dat ek nie regtig gereed is om nou al dood te gaan nie.  Daar is nog te veel dinge wat ek wil doen, plekke wat ek wil sien, geure wat ek wil ruik, smake wat ek wil proe.  Ek is nog lank nie moeg vir die lewe nie.  Ek wil nog baie drome met my kinders droom, simpel dinge aanvang, goeie dade verrig.

As dit vir my gegun word, sal ek weer gaan vir behandeling. Ek sal weer die wapenrusting aantrek en blinkpoets.  Ek sal doen wat die onkoloë en kenners voorstel, ek sal veg vir genesing, ek sal werk vir groter bewusmaking, vir navorsing. En as my beker dan leeg is, hoop ek om met 'n tevrede hart na my Maker terug te keer.

1 comment:

Caricatura said...

Great article, nice job. I really like this.