Thursday, June 11, 2009

Louisa Mafutha

Een van my eerste hartroerende sake as maatskaplike werker, was die van 'n vondelingetjie wat in 1977 digby Marabastad, Noord van Pretoria, gevind is. Die onlangs-gebore babadogtertjie is onder 'n doringbos gevind waar die miere al aan haar begin vreet het. Sy is na die destydse H.F. Verwoerdhospitaal geneem, vanwaar ons (die welsyn) van die saak in kennis gestel is.



Ek was destyds 'n jong maatskaplike werker in my eerste pos by Kindersorg, in hul Eersterust-kantoor gestasioneer. Daar is nogal baie administratiewe en wetlike sake in die geval van vondelinge wat moet aandag kry. Destyds baie meer as nou, want ons moes eerstens vasstel tot watter ras hierdie baba geklassifiseer moes word voordat daar enigsins verder na haar toekoms gekyk kon word.



Uit die aard van die saak is die herkoms van 'n vondelingetjie mos nie bekend nie. Die bedoeling van die ma was dan juis dat iemand anders die kindjie moet vind en grootmaak en sy (die ma)onbekend moet bly, of dat die kindjie sou sterf sonder dat iemand ooit van haar bestaan sou uitvind. Hierdie ma het anders as Moses se ma, nie 'n spioen gestuur om uit te vind wat van die baba sou word nie, en is sover ek weet nooit gevind nie.



By die hospitaal is die baba versorg, en gevoed totdat dit veilig sou wees om haar te ontslaan. Met ontslag moes ek oorneem. Ek onthou dat ek die dag nogal baie deftig aangetrek was vir die taak - met hoëhak-skoene en als. Ek het nie besef hoe ver ek sou moes stap nie.



Soos ek dit gehad het, was my eerste taak om die geboorte/vonds van die baba by Binnelandse Sake te gaan registreer. Gewapen met 'n bottel melk (komplimente van die hospitaal), 'n skoon doek, die baba, baie entoesiasme en my geleerdheid, is ek na Binnelandse Sake toe.



By die toonbank kon niemand my help nie, want ek het geen inligting gehad nie. Na lang verduidelikings (toe ek uiteindelik die voorkant van die ry bereik het) is ek verwys na van die senior manne in een van daai boonste kantore van die hoë gebou. Met te min hande, onbekendheid, 'n vermoë om in die biblioteek te verdwaal, en hysbakke wat nie op alle vloere stop nie, soek ek die kantoor.



Na 'n gesukkel en 'n paar skietgebedjies, kom ek toe by die paneel uit. Die klompie omies moes vasstel uit watter rassegroep die baba afkomstig was. Ek het naïef geglo dat daar die een of ander soort toets was wat sou bepaal wie die baba was. Toe nie.

Die manne bekyk my en die baba, en gesels asof oor 'n koppie tee, terwyl ek al meer met die baba identifiseer en haar saak darem met erns bejeën sou wou sien. Elkeen het 'n ander gedagte, maar die ooms voel ek moet haar as swart registreer. Hulle kyk nie eers behoorlik na haar nie.

Ek durf teëpraat, en probeer hulle oortuig dat sy net sowel van gemengde afkoms, d.w.s. 'n Kleurling kan wees. Na my mening het sy dalk 'n kans op 'n beter lewe as ek haar by 'n Kleurling-gesin kan plaas, want die aanneemouers waartoe ek toegang gehad het, sou in al haar behoeftes kon voorsien, en die politieke aansien van Kleurlinge het dit ook makliker gemaak om as Kleurlingkind op te groei.



No such luck. Nee, Juffrou, jy's nog jonk en onervare. Gaan na Bantoesake, en registreer haar daar.



Waar is Bantoesake se kantore? Net mooi aan die ander kant van die stad. So, hier gaan ons. Die bottel gaan nie die hele dag hou nie, en die doek ook nie, maar die baba moet geregistreer word!



Parkeerplek is ook nie so eenvoudig nie - nie eers in 1977 nie. Ek kry 'n veilige staanplek (sonder parkeermeter, want wie kan nou 'n boete ook nog betaal?) en stap. Myle voel dit vir my in my hoë skoene. Die deftigheid het niks gehelp by die span ooms van Binnelandse Sake nie.



Ek loop vir Willie Snyman, een van my matriek klasmaats raak. Hy kan nie verstaan hoe ek nou met 'n gekleurde baba kan straat-af stap nie. Ek het nie genoeg tyd om te verduidelik nie, want sê-nou die kantore maak toe.



Bantoesake. Die diens is nie waffers nie - eintlik glad nie waffers nie. Ek is baie bewus van my bevoorregte status bloot op grond van my velkleur. Naderhand kom ek by die regte toonbank uit (hoop ek). My voete is af. My deftigheid rem aan my. My oë knip-knip, en my professionaliteit is nerfdun.



Plak die skoene op die toonbank neer, en lê die baba langsaan neer. My arms begin naalde en spelde maak van ongeoefende baba-dra. Ek verduidelik my missie. Ja, ek is op die regte plek.

"Wat is die baba se herkoms?"
Ek weet nie, het ek dan nie goed verduidelik nie?


"Goed, wat is die baba se van?" Moedeloosheid neem besit van my.
Ek weet nie, daar was nie 'n briefie by die baba nie.

"Kies dan 'n van."
Hoe? Ek ken nie swart vanne nie, en ek wil darem nie hê die arme baba moet met 'n belaglike van opgeskeep sit nie. Wat is 'n normale van? Sy is naby Marabastad opgetel.


'n Dik register met baie inskrywings kom onder die toonbank uit.
Marabastad. Daar's omtrent 7,684,275 verskillende vanne. Ag toggie,toggie. My voete!


Hoe klink Mafutha? vra ek.

"Dit kan werk. M A F U T H A"

"Geboortedatum?"
Nie seker nie, skat maar ......

Ek is so moeg, ek is bereid om alles te raai.

"Naam/name?"
Nou's ek vas. Swartmense het mos gewoonlik 'n naam wat in hulle taal iets beteken, en dan 'n Christen-naam ook vir ons onthalwe.
"Louisa," hoor ek myself sê. Ek ken nie 'n Luoisa nie, behalwe miskien 'n agterkleinniggie van my pa ...

"L O U I S A"


"Goed Juffrou, hier's die sertifikaat."


Volgende probleem. Louisa Mafutha is nou swart, en ek werk met Kleurlinge. Ek moet die kleine bondeltjie mens, wat op my begin groei, nou verwys na of die Mamelodi-werker, of die Atteridgeville-werker.


Ek kan nie onthou waarheen Louisa Mafutha verwys is nie. Ek het geen terugvoer gekry nie, en weet nie of sy na 'n kinderhuis is, of sy in pleegsorg geplaas is en of sy vir aanneming gegee is nie.

Ek kan maar net hoop dat sy tog volgens haar eie tradisies grootgemaak is, en dat sy iewers 'n gelukkige lewe lei.


Louisa Mafutha weet nie van my bestaan nie, maar dit maak nie saak nie. Ek wens haar 'n wonderlike lewe toe. Die wiel van die lewe het gedraai, en miskien was die ooms van Binnelandse Sake tog reg met Luoisa se klassifikasie - ek hoop so, en ek bid vir Louisa Mafutha.

1 comment:

mariki said...

Sjoe -- wat kan 'n mens sê...soos jy doen: maar net bid en weet dat die Vader nie een enkele mens net "vergeet" nie.