Thursday, June 11, 2009

MERKWAARDIGE MENSE OP MY LEWENSPAD

Elke mens word mos maar gevorm en omvorm deur jou verhouding met en tot ander mense - dis nou naas jou verhouding met jou Skepper en jouself.

Daar is 'n hele kaboedel mense wie in groot invloed in my vorming gehad het, en steeds het. My ouers is vanselfsprekend bo aan die lys. My gedagtes het egter nog nooit volgens lysies gewerk nie. Hulle dwaal en drentel soos op 'n vlooimark na willekeur tussen die herinneringe en belewenisse deur.

Vandag het ek vasgemeer by die hawe van herinneringe aan Oupa Gert en Ouma Ella van Aswegen.

My ma was baie siek aan rumatiekkoors toe ek gebore is. Vir die eerste drie maande of so, het ek en Pa dus by Oupa en Ouma gebly. Volgens oorlewering (grootliks oordryf, glo ek) was ek baie bederf deur die twee grootouers. Hoe kan dit dan nou anders? Ek meen ek was seker toe al 'n oulike babatjie, so afhanklik en als. Enige grootouer hou mos van bederf!

Dat ek nie eintlik mooi genoeg was om aan babawedstryde deel te neem nie, is waar. Ondanks die feit dat dit nie in ons voorfamilie se Calvinistiese aard was om met die uiterlike op loop te gaan nie, was dit darem vir Ouma nodig om my wilde wenkbroue met Vaseline te probeer tem, en om my bakore met Elastoplast te probeer rehabiliteer. Die yslike groot lint in die hare het darem baie van die onvolmaatheidjies verbloem.

Oupa het my op sy knie laat grootword, en my so vroeg as moontlik met sy intellek begin lei. Ek onthou dat hy maar van altyd af besig was om my die een of ander baie belangrike aspek van die lewe te leer. So onthou ek dat ek op 4-jarige leeftyd vir hom die koerant gelees het. Oupa het baie gesukkel met sy oë, en het sulke dik brillense gehad - sy oë het soos pierings agter die lense gelyk. Gelukkig was hulle sag. Net na lees, het somme gekom. Dit was lekker! 'n Mens kan onmeetlik baie goed met somme uitwerk en verstaan. Die grote, wye wêreld begin sommer minder skrikwekkend te lyk as mens agterkom dat somme baie goed kan verduidelik. Oupa was 'n slimme man...

Op sy dag, nou wel voor my geboorte, was hy 'n raadgewer vir Genl. Jan Smuts, en hy het die prokureur altyd bygestaan as dit oor Watersake gegaan het. Met kontrakte was hy ook 'n boffin.

Oupa kon ook Engels praat! Gedurende die Anglo-Boere-oorlog, was hy as penkop ook 'n spioen, omdat hy die taal kon verstaan. Hy kon ook lekker vinnig hardloop, en het vir voornemende delwers kleims afgehardloop. Nogal iets om op trots te wees!

Wat Oupa nou nie gehad het nie, is tegniese vaardigheid. Hy kon die werking van enige iets verstaan, maar hy kon nie vir Ouma 'n kastroldeksel met 'n nuwe knop voorsien nie. Daai klas goed moes iemand anders maar doen. Handig was hy nie!

Verdraagsaam was hy wel. Oupa was 'n Bloedsap, en Ouma het uit 'n familie van Regsgesinde rebelle gekom. Tog was daar nooit huweliksonmin oor politiek nie. Daar is trouens NOOIT politiek in die familie gepraat nie. Wanneer Ouma na 'n regsse vergadering gegaan het, het Oupa haar by haar mense gaan aflaai, en wanneer Oupa na Genl. Smuts toe is, het Ouma tuis gebly, of gaan kuier. Hulle het ooreengekom om op die gebied maar te verskil - al was die verskil redelik drasties.

Waaroor hulle saamgestem het, was hul Godsdiens, eerlikheid en voorbeeldigheid. Oupa was 'n ernstige mens, en sewentien jaar ouer as Ouma (sy tweede vrou). Ouma was 'n platjie, ondeund sonder om enige perke te oorskry. Sy was ook musikaal, en geseën met 'n baie helder sopraan- stem. En lief vir tuinmaak. Ouma het meermale gesê dat ons die Sondeval nie voor Eva se deur alleen kan lê nie, want Ouma sou self ook nie die verbode vrug kon weerstaan nie. Niks so lekker as 'n vars vrug van die boom af nie.

Op sy oudag het Oupa baie vreugde daaruit geput om my die familiegeskiedenis, met kaart en transport ter stawing, te leer. Ek het al die plase se nommers en beskrywings geken - lank voordat ek kon droom dat ek eendag 'n landmeter se vrou sou wees. Oupa het my ook slag vir slag deur die Engelse oorlog begelei. Feite en minder bekende feite of staaltjies is so verweef dat ek tot vandag toe nog glo dat sy weergawe van alles die egte reine waarheid was.

Ek was in St 7 (graad 9) toe Oupa aan longkanker oorlede is. Sy wens was om nie behandeling vir die kanker te ontvang nie, maar om, soos hy dit gestel het, "met waardigheid" te sterf. Sy grootste vrees was dat hy beheer oor sy liggaamsfunksies sou verloor. Hy het nie.

Ouma was op 64-jarige leeftyd 'n weduwee. Jonk van gees. Sy het die helfte van elke jaar by ons gebly. 'n Fees was dit voorwaar vir hierdie tienerdogter! Ek en Ouma het 'n kamer gedeel, en snags tot wie weet hoe laat gelê en gesels oor alles en alles en nog wat. Geen onderwerp was vir hierdie naggesprekke taboe nie. Ek het baie by haar geleer, soos: "Meidjie, die Here het die man die hoof van die huis gemaak. Omdat Hy alwetend en goed is, het Hy 'n vrou gemaak om die man te help, en die nek te wees wat hom stuur sodat hy in die regte rigting kan kyk." Met die eerste aanhoor klink dit nogal ligsinnig (een van Oupa se woorde), maar as mens daaroor sou nadink, kom die wysheid daaragter na vore. So was Ouma. Vol pret, maar ver van 'n intellektuele of morele liggewig af!

Sy was ook handig. By Ouma het ek leer naaldwerk doen, leer brei (nou wel regsom, al is ek links) hekel en kosmaak. En planne maak. 'n Gunsteling gesegde was dat 'n mens niks kan doen as jy nie 'n plan kan maak, kan improviseer, of bietjie kan "kroek" om jou projek te laat slaag nie.

Ouma het Oupa se kar geëerf, maar nie sy bestuurslisensie nie. Die vaardigheid was ook 'n bietjie moeilik om aan te leer met onwillige leermeesters (my pa, veral). So het ons ons nie laat afskrik nie, en wanneer die Groot Kuier ons beetgepak het, veral in vrugtetyd, het ek (sonder lisensie, maar met die wêreld se selfvertroue) die motor bestuur. Ons het dan 'n houer in die kattebak gelaai - net vir ingeval iemand dalk vir ons van hul heerlike vrugte wou saamgee. Dan het ons darem 'n houer, en hoef hulle nie die ook nog te voorsien nie. Bedagsaam was ons middelnaam.

As Pa 'n aanmaning van die polisie af kry omdat ek onwettig op die pad is, het Ouma met mooipraat en haar eie logika, elke keer die situasie (en my bas) gered. Ek het eenkeer die kar gestamp - my laaste ongeluk in "reverse". Ouma het opgedok vir die skade, en besluit om alleen te leer ry. Toe beland sy met die kar bo-op die rotstuin vasgehaak, en moes Pa haar die aand afhelp. Hierna was ek weer chauffeur, maar vir lang pad, het ons bestuurders onder die jong manne van die omgewing (met rybewyse) gewerf. Ouma het ook 'n nuwe kar gekoop. So 'n rooi Dasun sportrige 160Y met 'n wit dak. As mens wil ry, en jy het jou eie kar, hoef jy net 'n bestuurder te soek, en voel jy nie so afhanklik van ander se genade nie, was haar redenasie.

Ouma is my Universiteitsloopbaan, met al die vakke, vakansietye saans en snags saam met my deur. Ons het elke teorie en elke rare sielkundige verskynsel bespreek en ontleed en fyngetrap. Ek glo dis een van die faktore wat gehelp het dat ek elke jaar, selfs my "gipsjaar" geslaag het. Ouma het uit haar lewenservaring 'n voorbeeld vir elke verskynsel of probleem gehad waarmee ek kon identifiseer, en so is my studies lewendig gehou. Sy kon ook baie goed luister, entussen die reëls lees.

Willem se verskyning was vir Ouma net so opwindend as vir my. Die aand toe hy laat en onverwags kom kuier het, en Pa hom met die geweer voorgelê het, was een so 'n aand waar Ouma saam ge-panick, en later saamgelag het. Dis egter 'n ander storie.

Willem en Ouma was hegte vriende toe ons getroud is. Soos ek, verlang hy net so dikwels na hierdie besondere vrou. Ons is egter baie bewus van die groot voorreg wat dit was om haar te kon ken.

Haar grootste erflating was egter haar liefde vir die Here. My eerste liedjie het ek by Ouma geleer: Open julle mond, eis van My blymoedig. Al wat jul begeer, gee Ek jul en meer - mildelik en oorvloedig!

Wanneer slaap haar om die een of ander rede (bekommernis) ontwyk het, het sy teruggeveg deur kliphard en sonder selfbewustheid in sang uit te bars en die Here te loof en te prys! Ek weet nie van een nag wat sy die hele nag moes sing nie. Die onrus of pyn, of wat ookal, het elke keer voor hierdie aanslag van oorgawe aan God die knie gebuig. Wat 'n voorbeeld was dit nie vir ons nie!

Hierdie singery het ook gehelp wanneer die nagmaalwyn bietjie warm gemaak het, soos met my aanneming en voorstelling in ons gemeente, en die ete daarna. Vriendin Marietjie 9toe nog Steenekemp)was ook hier, en onthou dit tot vandag toe. Die lied was: "O denk aan dat huis, ver van hier...."

Dis jammer dat my kinders te laat gebore is om haar te kan onthou. Sy het hulle darem geken. My kinders het egter hul eie Oumas en Oupas om te onthou, en moet hul eie herinneringe bymekaarmaak.

1 comment:

mariki said...

Wat 'n bevoorregte mens was jy met só 'n oupa, en dan veral ouma!

Dankie dat jy vertel!