Tuesday, June 23, 2009

OM OUD TE WORD - IS REGTIG NIE VIR SISSIES NIE!

Ons kom so pas terug van 'n besoek aan my skoonouers en ander familie in Limpopo.

Oupa en ouma is regtig van die dapperste onder die dapperes. Oupa is 'n volle 92 jaar oud (tot September) en ouma had op 19 Junie 86 jaar agter die blad. Rype ouderdom; geseënde jare; eer -jou-vader-en-jou-moeder-sodat-jy-lank-mag-lewe jare; goeie jare en slegte jare; besige jare en stil jare; vol jare en eensame jare; jare van lag en kuier, en jare van nabetragting en afsondering.

Ek wonder: Hoe en wanneer besef mens dat jy nou oud is. Klaar oud, en nie meer besig om oud te word nie. Dit lyk vir my of dit nie so eenvoudig is nie. 'n Mens besef mos op 'n dag dat jy nou groot is, al voel dit nie heeltemal so nie. Besluite en verantwoordelikhede is nou jou eie, en kan nie meer ontduik word nie. Hoe kom die besef dat dit alles weer verander het deur? Wanneer hou 'n ouer op om hom oor sy kinders, van wie sommiges al self oupas en oumas is, te bekommer? Wanneer hou 'n ouer op om te wonder of sy kind alle opsies oorweeg het voordat sekere besluite geneem is?

Hoe gebeur dit dat besluite wat jouself raak, nou deur kinders geneem word? Hoe ervaar en aanvaar 'n mens die omkering van rolle? As die wêreld dan so radikaal verander het soos in die laaste eeu, is dit seker nog moeiliker. In hul leeftyd het vervoermiddels van ossewaens, perdekarre verander na vliegtuie, gevorderde motors en ruimtetuie. Kommunikasie het verander van 'n hardloper met 'n briefie (gewoonlik om 'n sterfte aan te kondig) na selfone, sms'e, e-pos en Skype. Ernstige boodskappe, grappies en beelde vlieg ewe gemaklik, en met dieselfde graad van belangrikheid deur die kuberruimte, 'n "Dimensie" wat tot onlangs heel onbekend was.

Op alle terreine van die lewe het die nuwe en vreemde manier oorgeneem. Selfs dokters en medisyne is anders en vreemd.

Ek dink die grootste omwenteling is op die terrein van die beroepslewe. Waar al die wysheid en kennis toendertyd in die gryskrag van die ouer mense gesetel was, loop vandag se "kinders" met die tegnologiese vaardighede rond. Laerskoolkinders hanteer die rekenaar met gemak, en gebruik moeilike rekenaarterme sonder om daaroor na te dink. Fisieke krag is nie meer so belangrik nie. Dis ook nie al nie, tegniese mense soos loodgieters en elektrisiëns verdien maklik meer geld as gegradueerde persone. Die ou manier van dink en doen het verander......

Ek dink mens voel asof jy in "Topsy Turvy Land" of erger beland het.

Hoe gemaak as die verwysingsraamwerk wat oor dekades opgebou is, in jou doofheid nie meer kan help om die draad van 'n storie te volg en agter die kap van die byl te kom nie?

Die meeste ontwikkeling in die kombuis word met ope arms ontvang, want dis regtig arbeidsbesparend. Dit raak moeiliker as die resepte wat van geslag tot geslag oorgedra is, nou uitgedien raak, en die ou lekker kosse as "ongesond" bestempel word. Snelbevrore groente word as gesonder beskou as die gebergde of ingemaakte groente uit eie tuin waar die seisoen en die droogte tog so 'n groot rol speel. Gaste kom smul nie meer aan die ryk en lekker boerekos nie, maar verkies rou slaaie met maer sousies. Die meeste gesinne eet nie meer drie maaltye om 'n tafel nie, omdat dit weens elkeen se daaglikse program onprakties geraak het. Gelukkig is die gesin wat darem nog een maaltyd per dag om die tafel kan sit en eet.

Baie van die veranderinge is ten goede, maar die vreemdheid bly maar daar. Wanneer ouer mense meer en meer in die verlede begin leef, word die skeur tussen toe en nou, tussen bekend en onbekend, tussen sien en verstaan, al hoe groter.

Met tyd wat so belangrik in ons dolle gejaag is, kan mens vra of ons genoeg tyd spandeer om regtig te verstaan waardeur bejaardes gaan wanneer hulle "moeilik" raak. Hoe sal ons dit hanteer wanneer dit ons beurt is?

1 comment:

mariki said...

O Marietjie, hier raak jy nou 'n seerhart-harseerding aan. En weereens bring jy dit so goed onder woorde.

Dis vir my een van die mees tragiese gegewe van die gebrokenheid (deur die sondeval)waarmee ons moet saamleef. Dis darem eina, jong.

En intussen weet ons net Hy dra ons , ook en ek glo veral, die ou swakgewordetjies.

Maar dan: eendag....almal wat Christus s'n is...volmaak en nuutgemaak en verenig en omvou met 'n liefde waarvan ons nou geen begrip kan kry nie.

(En hier loop die trane sommer nou...)